Sien bg by " laat weet of jy lekker gebly het".
Wow, wow! Wat ’n belewenis van stilte, die pragtige natuurskoon en ’n rustige aand by die kampvuur met sterre om te aanskou. Daar is vele pluspunte, soos baie netjiese verblyf wat goed toegerus is, ’n "hot tub", kaggelvuur, alles wat jy benodig binne die Sinkshack, ’n hangmat buite om rustig te ontspan, en die geleentheid om op die stoep te sit en na die voëltjies te luister terwyl jy wegbreek van die gejaag van die daaglikse take en werk. Dit laat jou voel asof jy net daar wil bly en nooit wil terugkeer na jou bestemming nie.
Daar is verskeie staproetes, roetes wat jy met ’n bakkie kan ry en verken, asook ’n rivier met ’n grondpad en bergpas waar jy net rustig kan sit en na die water luister. Ons is vriendelik ontvang deur die eienaar en gasvrou. Daar was reeds sakke hout vir ons beskikbaar, en as jy hou van vuurmaak, is daar ekstra hout te koop. Binne die Sinkshack is daar ’n rak met konfyt en ingelegde vrugte te koop, met ’n houer om kontant te plaas as jy iets wil koop, asook "bush tea" wat eie aan die eienaar is.
Jy voel onmiddellik welkom, en daar is ook boeke vir reëndae, die geskiedenis van die Sinkshack, en verskeie bordspeletjies. Daar is geen internetontvangs nie—slegs in dele soos wanneer jy nader aan die dorp (Joubertina) beweeg. Dit is egter presies wat hierdie plek spesiaal maak: ’n stilte-wegbreek weg van tegnologie. Daar is geen elektrisiteit nie, wat saam met die gebrek aan internet ’n groot pluspunt van rus en vrede is. Daar is genoeg kerse met kerskandelare, genoegsame gaslampies, ’n gasvrieskas en ander lampies.
Die dorpie Joubertina is net ’n paar kilometer buite, indien jy dalk kos wil koop vir jou verblyf, ’n slaghuis wil besoek of by ’n restaurant wil eet. Ek beveel Route 62 sterk aan—hul kos is uit die boeke en die diens is vriendelik. Ons het ook die eienaar daar ontmoet, wat baie vriendelik was en ons laat tuis voel het. Hulle het ook ’n winkel by Route 62 waar ons die heerlikste vars pasteie gekoop het.
Vir diegene wat alkoholiese drankies wil koop, is daar opsies in die dorp beskikbaar. Daar is ook ’n apteek, Ackermans, Pep en ’n USave, maar ons het ons kosbenodigdhede by Joubertina Supermark gekoop. Dit is maar net ’n paar van die plekke waar jy aankope kan doen en die dorpie kan verken. Daar is selfs ’n Toyota-motorhawe (ons was daar met ons bakkie), met baie vriendelike en behulpsame diens, en ons het diesel ingegooi by Engen by Toyota.
Terug by die Sinkshack—dit is regtig een van die beste plekke waar ons nog was! As jy wil wegbreek van die gejaagde lewe van tegnologie en verkeer en net stilte wil ervaar, is hierdie plek nommer een!
Baie dankie aan die eienaar en gasvrou, asook aan die webtuiste vir uitstekende en vriendelike diens. Ons sien binnekort vir julle—ons volgende bespreking is reeds gedoen!