Is jy op soek na ’n wegbreek waar die enigste verkeersknoop plaasdiere en ’n paar boomstompe is? Dan is hierdie bekoorlike plaasverblyf perfek vir jou! Van bessiepluk tot prentjiemooi geluk, LekkeSlaap het plaasblyplekke vir paartjies, gesinne en selfs jou viervoetvriende.
Dassenheuwel Farm Stay
Malmesbury

Dassenheuwel Farm Stay is in die hartjie van die Swartland geleë en bied ’n rustige wegbreek op ’n koring-, bees- en skaapplaas. Met verskeie eenhede, wat onder meer Silo Retreat en die gesinsvriendelike Farm Stay House insluit, maak hierdie bestemming voorsiening vir beide paartjies en gesinne wat ’n rustieke atmosfeer verlang. Elke eenheid spog met geriewe soos lugversorging, toegeruste kombuise en binnenshuise kaggels vir die kouer nagte. Julle kan aan komplimentêre lekkernye soos tuisgemaakte beskuit, vars plaasmelk en konfyt smul, in die houtvuurwarmbad ontspan of die skilderagtige staproetes wat oor die plaasgrond kronkel verken.
Wildebraam Berry Estate
Swellendam

Hierdie plaas skuil aand die voet van die majestueuse Langeberge, net 2 km vanaf Swellendam, en bied bekoorlike selfsorg-eenhede wat paartjies, klein groepe en selfs troeteldiere verwelkom! Elke eenheid het lugversorging, gratis WiFi, DStv en privaat braaigeriewe met ’n komplimentêre sak hout en vuuraanstekers. Gaste kan in seisoentyd bessies pluk, likeur proe en die skilderagtige omgewing op die stap- of fietsroetes verken. Die landgoed se proelokaal bied ’n verskeidenheid tuisgemaakte konfyte, stroop, blatjang en lekkernye — perfek vir diegene wat ’n stukkie van die plaas huis toe wil neem.
Langfontein Farm Cottages
Graaff-Reinet

Draai tyd terug by Langfontein Farm Cottages – ’n geskiedkundige Karoo-toevlugsoord in die Camdeboo-bewarea, net 50 km vanaf Graaff-Reinet. Die noukeurig gerestoureerde plaasopstal dateer uit 1860 en bied drie unieke selfsorgkothuise wat elkeen ’n ouwêreldse atmosfeer met moderne geriewe kombineer. Die kothuise spog met slaapkamers en kraakvars perkallinne, volledig toegeruste kombuise, sitkamers met kaggels en badkamers met Victoriaanse baddens en storte. Julle kan op stoepe ontspan, in die swembad verfris, of die omgewing op die voetslaan- en bergfietsroetes verken. Die plaas is troeteldiervriendelik en kan tot twee goed gemanierde troeteldiere huisves.
Tugela River Lodge
Winterton

Tugela River Lodge is ’n versteekte juweel op die Tugelarivieroewer naby Winterton. Dié off-the-grid-wegbreek is perfek vir diegene wat op soek is na ’n rustieke atmosfeer wat nie gerief prysgee nie. Die eko-vriendelike lodge is vir enkelreisigers, paartjies en selfs gesinne van tot tien mense geskik — en moenie vergeet om jou troeteldiere saam te bring nie! Elke huis beskik oor volledig toegeruste kombuise, binnenshuise kaggels en privaat braai-areas. Julle kan aktiwiteite soos bergfietsry en velddraf aandurf en die lodge word selfs met geleenthede soos die Oxpecker Trail Run en Berg & Bush-bergfietsresies geassosieer.
AfriCamps at Gowan Valley
Balgowan

AfriCamps at Gowan Valley in die hartjie van die KwaZulu-Natalse Midlands Meander bied ’n boetiek-glanskampervaring waar gemak en natuur ontmoet. Met sy gesinsvriendelike geriewe en rustige omgewing, is dit ’n ideale toevlugsoord vir paartjies én gesinne wat ’n plattelandse wegbreek met ’n tikkie luuksheid soek. Elkeen van die vyf tente het lugversoging, slaapplek vir tot vyf gaste, twee slaapkamers en ’n privaat badkamer met ’n stort. Die oopplan-leefarea sluit ’n toegeruste kombuisie, knus sitarea met ’n kaggel en ’n eetarea in. Stap na buite tot op die onderdakstoep waar braaigeriewe en ’n houtvuurwarmbad wag. Julle kan die 4 km-roete in die inheemse woud verken wat na ’n majestueuse 500 jaar oue geelhoutboom lei of met tjoeps op die nabygeleë rivier baljaar.
Royal Coachman Lodge
Clarens

Royal Coachman Lodge is op ’n plaas net 6 km vanaf Clarens geleë en bied rustige verblyf aan groepe van tot sewe gaste. Die ruim selfsorghuis beskik oor drie slaapkamers, waarvan een ’n solderkamer is, en twee badkamers wat verhitte handdoekrelings het. Geriewe sluit ondervloerse verhitting, ’n kombuis en ’n sitkamer met ’n kaggel in. Alle kamers op die grondverdieping lei na ’n houtdek met ’n ingeboude braai en ’n asemrowende uitsig oor die dam en op die omliggende berge. Daar is nie ’n TV nie, maar die lodge se saligheid en Clarens se verskeidenheid aktiwiteite maak dit ’n ideale bestemming vir ontspan en avontuur.
Kaapsehoop Horse Trails – Trail House
Kaapsehoop

Vir diegene wat op soek is na ’n ware word-een-met-die-natuur-ervaring in die hartjie van Mpumalanga se hooglande is Kaapsehoop Horse Trails – Trail House net die plek. Hierdie bekoorlike plaashuis het slaapplek vir sewe gaste in drie slaapkamers en bied meer rustieke verblyf wat deur die natuurskoon omring word. Die sitkamer het ’n kaggel – ideaal vir daardie mistige bergaande – en die stoep is perfek vir ’n koppie koffie soggens of ’n kuier langs die braaivleisvuur saans. En wat is die werklike hoogtepunt hier? Begeleide perdryroetes wat deur die skilderagtige woude en oop vlaktes kronkel. Met staproetes en die bekoorlike Kaapschehoop-dorpie naby is dié plaas die ideale rustige wegbreek met baie avontuur.
***
Of jy nou mistige oggende, knetterende vure of die salige klanke van die plaaslewe verkies, LekkeSlaap se plaasverblyf het karakter en plattelandse bekoring – elke plek met sy eie tikkie towerkuns. Pak jou vellies in en laat staan die stad se geraas, ’n naweek wag – vol rus, gees en plaas!
Hooffoto: Langfontein Farm Cottages
Lees ook:
Sakpas-plaasverblyf buite Kaapstad