

Die Vrystaat se prag lê in die mense se warm harte … sout-van-die-aarde-mense. Vriendelike tannies wat mens heeltyd wil vet voer en ooms wat lekker uit hul bierpense lag. Silhoeëtte van windpompe en klein koppies teen die sonsondergang. Miershope wat mens goed moet dophou terwyl jy kaalvoet perdry. Smullekker biltong wat jy nét hier sal kry. Mense wat afluister terwyl jy deur sentrales na ander plase toe skakel.
Besoek Ventersburg en beleef ‘n regte plaasdorpie op sy beste. Leandra sê daar is ‘n vet skaap wat dink hy is ‘n hond wat op een van die inwoners se stoep bly en die werf oppas.
Anina sê weer mens moet die Golden Gate-natuurreservaat in die Oos-Vrystaat besoek. Die naam sê alles – hier is uitsigte wat jou asem sal wegslaan.

Mpumalanga is ‘n beeldskone, groen provinsie. Skilderagtige paaie strek verby eindelose suikerplantasies, sitrusboorde en bloekombome. In hierdie provinsie het ek die Groot 5 gesien, en ‘n serp gekoop wat reg voor my oë met Afrika-sy gespin is.
Besoek die Panorama-roete. Die uitsigte laat ‘n ewige indruk op jou droomwêreld.

Die Noordwes is ‘n plek waar jou sokkies rooibruin vlek, so rooibruin soos die sand en die nabygeleë Magaliesberge. Ek onthou die reuk van die somerreën en die landskap wat met die koms daarvan ontspan en rysmiere wat jou roep om te kom kyk. Donderweer en weerlig. Doringboom en akkedis. Die reuk van my jeug.
Besoek Groot Marico. Hiér borrel die aarde met stories wat nog nooit vertel is nie. Dalk was dit maar net vir my as jong skrywer só wat met my bergfiets deur Herman Charles Bosman se agterplaas gery het en myself dinge verbeel het. Ek dink gereeld daaraan, aan Groot Marico, en die stories daar onder die aarde.

Die meeste van my kattekwaad, toktokkie, tennis-in-die-straat-speel en ander grootword-herinneringe speel in Pretoria af. Destyds toe ons nog jonk was, het die Pretoria-dieretuin die publiek uitgenooi om diere “aan te neem” as deel van ‘n fondsinsamelingsprojek. Jy kon teen ‘n klein fooitjie ‘n dier ‘n naam gee, en dan word dit op ‘n bordjie buite die hok geplaas. My ouers het heel gepas vir my en my twee sussies elkeen ‘n apie aangeneem, en dié se name was Tharina, Jana en Denise. Elke keer as ons verby die dieretuin gery het, het ons luidkeels by die venster uitgeskree: “Hallo Tharina, Jana en Denise!”
Besoek die Pretoria-dieretuin. Dit is nie net ‘n spesiale plek omdat die apies hier gewoon het nie, maar ook omdat ons as kinders ure hier kon speel. Besoek ook die Uniegeboue. My pa en ma het hier verloof geraak en dit bied asemrowende uitsigte.

Limpopo en die bosveld het ‘n baie spesiale plek in my hart. My oupa en ouma het duskant Mookgophong (Naboomspruit) geboer, en wanneer ek van aardse wroeg wil wegbreek, maak ek net my oë toe en droom van die plaas. My oupa kerf weer biltong met sy knipmes terwyl die sentrale in die kombuis praat. Ons ry agter op die bakkie en soek bokke tussen moepanies en bloekombosse en trap in duwweltjies wanneer ons die plaashekke oop en toe maak. Ek sit vir ure in my ouma se spogtuin en stap met die rooi grondpad na die beeskraal. Die bosveld is vir my ‘n ontvlugting – daar gaan haal ek ‘n stukkie saligheid, selfs al sit ek duisende kilometers ver in die raserige stad.
Besoek die Waterberge. Eugene Marais het hier ‘n eeu gelede bobbejane en termiete bestudeer, en dié beeldskone omgewing is tot vandag toe nog ‘n plek waar mens natuurwonders opnuut kan ontdek.


Die Wes-Kaap is vir ons soos ‘n wêreld in die kleine. As jy dié provinsie platreis sal jy Provence in Franschhoek vind, die Tuinroete sal jou laat voel of jy in Nieu-Seeland reis, Langebaan se Klub Mykonos is ‘n Griekse Eiland se ewebeeld, in die bossiesveld van die Klein Karoo kan jy jou verbeel jy is in die Sahara, en dan kan ons nog oor Kaapstad self ‘n hele boek skryf!
Frances beveel aan dat jy nie net in blommetyd Clanwilliam toe ry nie, maar ook die res van die jaar. Dié dorpie is ‘n versteekte skat met wonderlike natuurtonele en heerlike lemoene.
Roseanna is mal oor Kirstenbosch. Tydens haar kinderjare het sy in dié pragtige plek piekniek gehou en sy en haar man het hier verloof geraak.

KwaZulu-Natal is ‘n pragtige, diverse provinsie en my gunsteling-plek is ongetwyfeld Sodwana. Hiér is ‘n ongerepte koraalrif – waar vissermanne nie mag lyn natmaak nie, skepe nie mag anker gooi nie en skubaduikers nie stukkies koraal mag afbreek om hulle voorstedelike badkamers in tropiese lushowe te omskep nie. In dié pragtige omgewing is daar wandelpaaie deur tropiese bosse en ‘n paar winkeltjies wat stroopsoet pynappels verkoop.
Besoek Sodwana – dit word beskou as een van die mooiste koraalriwwe in die wêreld.


Die Noord-Kaap het pragtige kontraste, van die Richtersveld se strak rotsformasies, die Namakwaland se kleurvolle blomtapyte, die magtige dreuning van die Augrabies-waterval tot die groen wingerde in die lente. As jou voete eers een keer oor ‘n rooi Kalahari-duin geloop het, sal jy weer en weer wil teruggaan.
Besoek Upington. Dit is sentraal geleë en bied soveel doendinge vir toeriste!

Die Oos-Kaap is ‘n beeldskone wildernis. Ek is veral lief vir die binnelandse Karoo-streek met die windpompe, doringbome en donderstorms. Hier ruik ek die geur van nat grond na die eerste reën en hoor ek die geblêr van die skape. Ek verlang na die oneindige pret van swem in die plaasdam, trekkerry en kettieskiet. Jeffreysbaai in Desember en die Wildekus met sy eindelose strande is ook Oos-Kaapse juwele.
Besoek die Oos-Kaapse binneland. Dit is Suid-Afrika se versteekte skat met ‘n ongelooflike natuurskoon wat jy nêrens anders op aarde sal kry nie.
Die geheimsinnige Uilhuis in Nieu-Bethesda is ‘n besoek werd! (Marosane)
Kom skep jou eie herinneringe in Suid-Afrika se mooi provinsies saam met LekkeSlaap. Deel ook jou hartsplek, en vertel wat dit spesiaal maak.



