Besoek NAMPO Cape in Bredasdorp

Elke jaar word die stil Overbergse dorpie Bredasdorp met die gegons van trekkers, tegnologie en gemeenskapsgees by die NAMPO Cape Outdoor Expo opgekikker. Hierdie jaarlikse landbougeleentheid word by Bredasdorp Park aangebied en vier innovasie, boerdery en die plattelandse leefstyl in die Wes-Kaap. Daar is elke jaar honderde uitstallers, opwindende kompetisies, heerlike plaaslike kos en gesinsvriendelike vermaak — alles wat die beste van Suid-Afrikaanse landbou ten toon stel.

Foto: Te danke aan NAMPO Cape

Wat is die NAMPO Cape Outdoor Expo?

Die NAMPO Cape Outdoor Expo het sedert sy eerste ekspo in 2018 vinnig een van Suid-Afrika se vernaamste landbou-uitstallings geword. Dit word deur Grain SA saam met Bredasdorp Park NPC georganiseer en lok boere, professionele landbou-persone, gesinne en besoekers van reg oor die land.

Foto: Te danke aan NAMPO Cape

Die park se skougronde word jaarliks met meer as 500 uitstallers gevul en sluit uitstallings soos die nuutste slimboerderytegnologie en tradisionele veekompetisies in. Daar is ook demonstrasies, opvoedkundige praatjies en eerstehandse ervarings wat besoekers inspireer en inlig, asook grootskaalse masjinerie, hommeltuie, kosstalletjies en blomuitstallings.

Waar en wanneer?

Die NAMPO Cape Outdoor Expo vind gewoonlik in September by Bredasdorp Park in die Wes-Kaap plaas. Die hekke word om 08:00 oopgemaak en om 17:00 (Saterdag tot 14:00) gesluit. Kaartjies is aanlyn op Ticketpro beskikbaar, maar besoekers kan ook op die dag by die hek kaartjies teen ’n effens hoër prys aankoop.

Foto: Te danke aan NAMPO Cape

Wat is die hoogtepunte?

  • Uitstallings van die nuutste boerderytegnologie en -masjinerie
  • BKB Veesentrum met die Merino Classic en Jeugskou
  • Neptun Deli Kos- en Wynsaal met plaaslike produkte en wynproeë
  • Overberg Flora- en Elim-veldblomuitstallings
  • Skaaphond-ekspo en Kaapse Wolskeerkompetisie
  • Vroueprogram met werkswinkels en leefstylsessies
  • ’n Perdeskou in die hoofarena
  • Gesinsvriendelike aktiwiteite

Wat moet ek weet?

  • Arriveer vroeg: Die hekke maak om 08:00 oop en vroegoggend is die beste tyd om tussen die masjinerie-uitstallings deur te stap voordat dit besig raak.
  • Parkeerplek: Gratis parkeerplek is op die perseel beskikbaar en daar is ’n pendeldiens tussen die verskillende sale en arenas.
  • Verblyf: Bespreek vroegtydig, want Bredasdorp en nabygeleë dorpe raak vinnig vol bespreek.
  • Weer: Dit kan soms winderig in die Overberg raak, so pak ’n baadjie, hoed en sonskerm in.
  • Moenie dit misloop nie: Die Skaapkop-middagete is ’n ware plaaslike lekkerny en feesgunsteling!

Waar moet ek bly?

Beplan jy om sommer ’n naweek daarvan te maak? Hier is ’n paar topblyplekke naby Bredasdorp Park:

Talana’s Stay Bredasdorp 

1,6 km vanaf die ekspo

Talana’s Stay Bredasdorp bied ’n rustige selfsorgwegbreek waar kleindorpie-bekoring en moderne gerief uitstekend gekombineer word. Gaste kan tussen Hugo Haven, ’n ruim tweeslaapkamer-eenheid met ’n panoramiese uitsig oor die landerye, en Hugo Studio, ’n knus woonstel vir paartjies, kies. Elke eenheid het alles wat jy benodig, van kombuise wat volledig toegerus is en gerieflike leefareas, tot privaat stoepe met braaigeriewe en veilige parkeerplek.

Casa Mia 

1,8 km vanaf die ekspo

By Casa Mia kan jy warm gasvryheid net ’n entjie vanaf plaaslike restaurante, winkels en die Skeepswrakmuseum verwag. Dié gastehuis het ses gerieflike kamers, ’n rondawel, gastesitkamer, knus eetkamer en ’n stoep waar julle behoorlik kan ontspan. Gratis WiFi, DStv, veilige parkeerplek en ’n wasgoeddiens word ook voorsien en maak Casa Mia die perfekte basis vanwaar julle die ekspo kan bywoon.

De Volkshuijs 

2 km vanaf die ekspo

Gaan op reis terug in tyd met ’n selfsorgwegbreek by De Volkshuijs — ’n pragtig bewaarde Nasionale Monument in Bredasdorp. Kies die ruim Sakkie-kothuis of die knus Saartjie-kothuis wat albei smaakvol met moderne geriewe ingerig is terwyl dit die historiese karakter behou. Elke kothuis beskik oor ’n volledig toegeruste kombuis, ’n gemaklike leefarea en ’n privaat binnehof met ’n wingerd-pergola en braaigeriewe.

Kliek hier vir nog verblyfopsies naby NAMPO Cape Outdoor Expo.

Wil jy ook een ​​van die Wes-Kaap se lekkerste landbou-geleenthede bywoon? Beplan sommer nou al jou NAMPO Cape Outdoor Expo-wegbreek in Bredasdorp sodat jy nie hierdie opwindende geleentheid misloop nie.

Hooffoto: Te danke aan NAMPO Cape