Lente in Suid-Afrika is die perfekte tyd om ’n naweektas te pak, die vensters af te draai en die pad vir ’n vinnige wegbreek te vat. Die bloeisels begin kopuitsteek, die lug is vars en die son wat ’n bietjie warmer skyn herinner dat die somer om die draai is. Of jy nou in Kaapstad, Johannesburg of Durban woon, ons het die beste bestemmings bymekaargemaak wat naby genoeg vir ’n vinnige wegbreek is, maar ook ver genoeg sodat dit soos ’n behoorlike vakansie voel.
Ontsnap uit die Moederstad
Cederberge

Die Cederberge is net drie uur se ry vanaf Kaapstad en beslis ’n lente-gunsteling. Verwag ’n veldblomkombers, dramatiese rotsformasies en ’n hemelruim vol sterre. Bedags kan julle lekker gaan stap, antieke Sanrotskuns verken, of eenvoudig in ’n knus kothuis in die berge ontspan. Ons stel voor jy bly in ’n rustieke houthuis of ’n bergkothuis om die vars lentelug en sterrehemel behoorlik in te drink.
Hermanus en die Hemel-en-Aarde-vallei

September tot November is walvisseisoen in Hermanus, so jy is amper gewaarborg om een van dié reuse vanaf die kranse te sien. Sit ook ’n wynproetoer in die Hemel-en-Aarde-vallei op jou lys, waar die uitsig oor golwende wingerde en lentebloeisels nét so pragtig lyk soos die wyn proe. Kies ’n boetiekgastehuis of ’n wynplaaskotuis vir knus, luukse verblyf met maklike toegang tot die wynplase.
Tulbagh

Tulbagh is net 90 minute se ry vanaf Kaapstad en in die lente is die vrugtebloeisels iets om te beleef. Stap deur die historiese Kerkstraat, bespreek ’n wynproe en geniet die kleindorpie-ervaring wat deur berge omring word. ’n Bekoorlike, plattelandse B&B of plaashuisverblyf sal die lente-atmosfeer perfek komplementeer.
Ontsnap uit die Goudstad
Dullstroom

Dié bekoorlike hooglanddorpie is vir lentenaweke gemáák. Dullstroom is vir kunsvlieghengel, boetiekbier en gesellige kroeë bekend, maar spog ook met skilderagtige staproetes en perdrygeleenthede. Dit is net minder as drie uur se ry vanaf Johannesburg en daarom ’n ideale wegbreekplek op die platteland met baie vars lug. Kies ’n knus kothuis of lodge naby die hengeldamme om rustige oggende te geniet.
Magaliesburg

Die Magaliesburg is voorwaar een van die beste opsies as jy nie die helfte van die naweek op die pad wil deurbring nie, want dit is net sowat ’n uur se ry buite die Goudstad. Berguitsigte, spa-toevlugsoorde en selfs warmlugballonritte is wat jy hiér kan verwag. ’n Berglodge of ’n boetiekhotel met ’n spa is perfek as jy op soek is na ’n vinnige wegbreek.
Magoebaskloof

As jy op soek is na iets ’n bietjie anders is Magoebaskloof ‘n magiese bestemming — byna iets uit ’n feeverhaal. Die omgewing se welige woude, watervalle en lenteblomme laat dit soos ’n magiese, versteekte juweel voel. Staproetes, boomtoptoere en plaasstalletjies is die kersie op die koek. Bly in ’n huisie in die bos of ’n eko-lodge om jouself in die kloof se ongelooflike natuuskoon te verdiep.
Ontsnap uit Durban
Midlands Meander

Die Midlands Meander se bekoring bars behoorlik uit sy nate in die lente. Volg die kronkelende plattelandse paaie al langs plaasstalletjies, kunsvlytwinkels en tuine vol bloeisels. Voeg ’n spa-behaling en ’n bord plaaskos by jou doenlysie en jy het ’n behoorlike ontspannende naweek wat vir jou wag. ’n Knus plattelandse kothuis of ’n plaashuis sal jou die kans gee om die pragtige heuwels en blomlandskappe behoorlik in te drink.
Sentrale Drakensberge

Lente is die stapseisoen in die Drakensberge, want die koeler weer maak dit net soveel meer aangenaam. Of jy nou ’n ernstige roete aanpak of ’n minder uitdagende uitstappie verkies, die berguitsigte en veldblomme sal jou siel dadelik verfris. ’n Berglodge of ’n selfsorghuis met ’n kaggel en vuurmaakhout is ’n wenresep vir lente-aande in die berge.
Umdloti tot by Umzumbe

Voor die vakansieskare tydens die spitsseisoen toeslaan, is die KwaZulu-Natalse kus op sy beste — van Umdloti tot by Umzumbe. Verbeel jou stil strande, getypoele en kusdorpies wat perfek vir ’n welverdiende wegbreek is. Pak jou plakkies en sonbril in en kom voel die vroeë somerson om jou vel bak. ’n Strandhuisie of ’n klein gastehuis by die see is ideaal vir stapsessies en sonsondergange op die strand.
***
Die lente en ’n nuwe begin gaan hand aan hand en hoe kan ‘n mens dit nou beter vier as met ’n vinnige naweekwegbreek? Of dit nou in die berge, in die wynlande of by die see is, daar is ’n perfekte lente-wegbreek net ’n entjie se ry van jou stad af. Pak jou sonbril in, maak die brandstoftenk vol en maak die meeste van dié pragtige seisoen.
Hooffoto: Mount Ceder