Soos die somer stilletjies verdwyn en die lug buite ’n bietjie begin byt, word die herfs- en winterseisoen een van die beste tye vir ’n wildkykwegbreek in Suid-Afrika. Omdat die weer meer matig is, toeriste iewers anders die son gaan soek en die sigbaarheid in die bos verbeter, is dit baie makliker om wild raak te sien. Of jy nou ’n naweekwegbreek of ’n langer wegkomkans beplan, dié paar maande voor die winter regtig aanbreek, is perfek om van die land se beste nasionale parke en wildreservate te verken.

Nasionale Krugerwildtuin 

Mpumalanga | Limpopo

As jy van ’n klassieke Suid-Afrikaanse wildkykwegbreek droom, is die Krugerwildtuin beslis die plek vir jou. Dis een van die grootste en bekendste parke in die land – en met goeie rede. Nou is ’n wonderlike tyd om te gaan: dis stiller, koeler, en die diere is makliker om raak te sien. Jy kan ’n eenvoudige ruskamp in die park kies of jouself met ’n luukse lodge naby bederf, so dit pas byna elke soort reisiger.

Of jy nou op soek is na ’n regte egte bos-ervaring of ’n bietjie bederf wil word, die Krugerwildtuin het iets vir almal. Sakpasreisigers kan by enige van die SANParke-kampe bly, of by Elephant Walk Retreat, net ’n hanetreetjie vanaf die Krokodilbrughek, vir meer luukse selfsorgverblyf op die Krokodilrivieroewer aanklop. As ’n luukse lodge-vakansie aan die orde van die dag is, spog Motswari Private Game Reserve met ’n ongelooflike uitsig, gerieflike verblyf en begeleide wildritte.

Addo-olifant Nasionale Park 

Oos-Kaap

Addo is ’n topkeuse vir enigiemand wat van olifante hou – en dis heeltemal malariavry wat ’n bonus is. Dis lekker naby Gqeberha geleë en werk goed as deel van ’n Tuinroete-roetereis. Die park is ideaal vir selfbestuur-wildkyk en is maklik om te verken, veral as dit jou eerste wildkyk-ervaring is. Die koeler weer beteken die diere is ’n bietjie minder lui en daarom jy sal hulle waarskynlik ook ’n bietjie makliker kan raaksien.

Met opsies vir elke soort reisiger maak Addo dit maklik om ’n ontspannende wegbreek te beplan. Die SANParke-kampe is ’n bekostigbare opsie in die park en Zuurberg Mountain Village is ’n bekoorlike blyplek net buite die park vir diegene wat op soek is na ’n bietjie meer gerief. Vir iets meer eksklusiefs en spesiaal, is Woodall Country House and Spa perfek vir ontspan ná ’n opwindende dag van wildkyk.

Pilanesberg Nasionale Park 

Noordwes

Het jy ’n vinnige blaaskans buite die stad nodig? Pilanesberg is net ’n paar uur se ry vanaf Johannesburg en Pretoria en daarom ideaal vir ’n naweekwegbreek. Die natuurskoon is ’n mengsel van bosveld en rotsagtige heuwels – dis eintlik binne-in ’n ou vulkaan geleë. Die droë lug dié tyd van die jaar beteken dat jy ’n goeie kans het om diere naby die watergate te sien en die koeler temperature maak wildritte boonop baie meer gerieflik – onthou net om jou winterbaadjie en mus in te pak.

Beplan jy ’n naweekwegbreek? Bly naby die aksie by ’n gesinsvriendelike oord soos The Kingdom Resort of kies eerder ’n luukse selfsorgblyplek by Morokolo Safari Lodge. As jy iets spesiaals vier, spog aha Shepherd’s Tree Game Lodge met ’n meer luukse ervaring met begeleide wildritte en spa-behandelings.

Hluhluwe-iMfolozi Park 

KwaZulu-Natal

Soek jy iets ’n bietjie meer onafgerond? Die Hluhluwe-iMfolozi Park is een van die oudste parke in Afrika en het ’n rou, ruwe bekoring. Dit is veral vir renosterwaarnemings bekend en het ’n meer afgeleë gevoel in vergelyking met sommige van die groter parke. Hierdie tyd van die jaar koel dinge lekker af en is dit baie makliker om die heuwelagtige terrein te verken, met wonderlike uitsigte en baie wildspesies om langs die pad raak te sien.

Hierdie wilde hoekie van KwaZulu-Natal pas perfek by rustieke lodges en safari-verblyf. AfriCamps at Bonamanzi Game Reserve is ’n wonderlike selfsorg-opsie net 30 minute van die hek af en Hluhluwe River Lodge op die St. Lucia-meer se oewer maak voorsiening vir gesinne en paartjies en sluit ontbyt en aandete in. By Makakatana Bay Lodge, ook op die St. Lucia-meer se oewer, wag luukse verblyf met alle maaltye, wildritte en aktiwiteite ingesluit op julle.

Kgalagadi-oorgrenspark 

Noord-Kaap

Die Kgalagadi is ’n droom vir mense wat van wye oop ruimtes en dramatiese woestyntonele hou. Dis ver van die skares af en voel soos ’n ware avontuur – perfek as jy van kamp en 4×4 hou. In die herfs begin die ergste hitte darem vir ’n bietjie koeler weer plekmaak, wat dit ’n beter tyd maak om te verken. Jy sal alles hiér kan sien, van leeus met swart maanhare tot grasieuse wildsbokke in ’n omgewing wat byna bonatuurlik voel.

Die Kgalagadi is vir reisigers wat nie omgee om ’n bietjie off-the-grid te wees nie – trouens, hulle verkies dit. Probeer Kgalagadi Lifestyle Lodge vir bekostigbare verblyf met al die geriewe, minder as 10 minute van die hek af, of Molopo Lodge as ’n gerieflike B&B-basis sowat 40 minute ver jou roep. As jy lus is vir iets nóg meer wild, bied SANParks Urikaruus Wilderness Camp en SANParks Bitterpan Wilderness Camp albei eenhede op stelte in onomheinde kampe met uitsigte oor besige watergate.

Marakele Nasionale Park 

Limpopo

Marakele is ’n versteekte juweel in die Waterberge. Dit spog met ’n mengsel van berge, valleie en bos, met baie ruimte vir besoekers en diere. Nou is ’n heerlike tyd om daar te wees, want dis koel en helder, en ideaal vir ontspannende wildritte of kort stapsessies. Wees op die uitkyk vir olifante, bobbejane en selfs aasvoëls wat hoog bo in die lug sweef.

In hierdie rustige park sal jy lekker by SANParks Bontle Rest Camp bly, veral as jy op ’n begroting reis of daarvan hou om te kamp. Luara Wildlife, net buite die park, is ideaal vir gerieflike, rustige verblyf, maar vir ’n luukse boswegbreek kombineer Marataba Safari Lodge en Marataba Mountain Lodge luukse afwerkings en ’n moderne ontwerp met die pragtige natuurskoon van die omgewing.

Voor die winterkoue hom behoorlik kom tuismaak en ons almal meer tyd binnenshuis begin deurbring, stel ons voor jy bespreek ’n wildkykwegbreek vir ’n bietjie gehaltetyd in die natuur. Hierdie parke is vol wildspesies, vars lug en ruimte om asem te haal – geen haas en geen skares, net die beeldskone bos. So pak jou baadjie in, maak jou koffiefles vol, laai jou kamera en maak die meeste van hierdie wildkykseisoen!

Hooffoto: Marataba Safari Lodge

Lees ook:

Gesinsvriendelike plaaswegbreke

Herfs in SA: Die beste plekke om die herfskleure te sien

Ontdek Hermanus: ’n Gids vir strande, wynplase en besienswaardighede