Smag jy na ’n wegbreek in die natuur, maar is nie lus vir die moeite om jou eie tent op te slaan nie? Moenie verder bekommer nie! LekkeSlaap het die beste glanskampplekke in Mpumalanga bymekaargemaak waar jou volgende vakansie so moeiteloos en onvergeetlik moontlik sal wees.
Mbizane Escarpment Retreat
Schoemanskloof

Kom ervaar die ongelooflike natuurskoon terwyl jy in ’n luukse tent by Mbizane Escarpment Retreat bly. Hiér word jy deur ongerepte rivierwoude en ’n asemrowende uitsig oor die platorand omring. Die tentekamp is ’n privaat natuurbewarea in die Schoemanskloofvallei en ’n erkende erfenisgebied vanweë die asemrowende kranse, riviere en ryk biodiversiteit.
Kies tussen verskeie tente wat slaapplek aan twee tot agt gaste bied, almal met gemaklike leefareas, goed toegeruste kombuise en privaat houtdekke. Die beste deel? Ontbyt is by die tarief ingesluit. Julle kan ook lekker piekniek hou, by die restaurant op die perseel vir ete aansit en aktiwiteite soos voëlkyk, stap, 4×4 en swem in natuurlike poele geniet.
Ndhula Luxury Tented Lodge
Witrivier

By Ndhula Luxury Tented Lodge in Mpumalanga se Laeveld sal jy ’n ongelooflike panoramiese uitsig op die majestueuse berge en oor die bosveld en welige valleie gewaar.
Die lodge het ’n hele paar permatente op houtdekke wat slaapplek aan tussen twee tot vier gaste bied. Elke tent beskik oor ’n en suite-badkamer met moderne geriewe en gemaklike stoepmeubels waar jy aan ’n skemerkelkie kan teug terwyl jy die uitsig bewonder. Behalwe vir die feit dat ontbyt en aandete ingesluit is, kan julle ook by die hooflodge in die swembad afkoel, ’n drankie by die kroeg geniet, aan heerlike maaltye by die restaurant smul en aktiwiteite soos stap en bergfietsry geniet.
Summerfields Rose Retreat and Spa
Hazyview

Hiér by Summerfields Rose Retreat and Spa word jy deur pragtige heuwels, makadamia-, lietsjie- en grenadella-boorde op ’n pragtige plaas in Hazyview omring. Die luukse B&B het 14 pragtige tent-suites wat elkeen slaapplek aan twee gaste bied en ’n suite-badkamer met ’n buitestort en ’n bad het.
Smul aan heerlike ontbyt en ander geurige maaltye by die bekroonde River Café en klop by die spa aan waar daar ’n rits behandelings en ’n Jacuzzi is. Die B&B kan ook maklik plaastoere, Krugerwildtuin-uitstappies en Panoramaroete-avonture vir jou reël.
Kokiville Homestead – Tipi Glamping
Mbombela (Nelspruit)

Dié selfsorg-tipi op ’n selfonderhoudende plaas in Mbombela (Nelspruit) is die ideale wegbreekplek waar julle gehaltetyd in die natuur, en met mekaar, kan deurbring en behoorlik kan ontspan.
Die privaat tipi bied slaapplek aan twee gaste op ’n knus koningingrootte-bed en het ’n en suite-badkamer met ’n binne- en ’n buitestort, ’n goed toegeruste kombuisie met ’n gasstoof, gratis WiFi en privaat braaigeriewe.
Umkumbe Bush Lodge Luxury Tented Camp
Sabi Sand Wildreservaat

Umkumbe Bush Lodge Luxury Tented Camp se luukse tentekamp is die ideale wegbreek in die bosveld. Hiér bly jy in ’n stylvolle tent en dit sluit drie etes, drankies en twee wildritte daagliks met skemerkelkies en eetgoed in.
Wanneer julle nie op ’n wildrit is nie kan julle in die swembad afkoel, ’n drankie by die kroeg geniet, of kyk hoe die diere ’n draai by die watergat kom maak. Saans wag daar heerlike borde kos en goeie geselskap langs die vuur in die boma.
Buffelshoek Tented Camp
Manyeleti Wildreservaat

Buffelshoek Tented Camp is ’n eksklusiewe toevlugsoord in die Manyeleti Wildreservaat naby die Krugerwildtuin en Sabi Sand Wildreservaat en omdat hier maksimum 10 gaste op ’n slag bly, kan julle persoonlike aandag en ’n werklik eksklusiewe ervaring verwag. Die tentekamp het die perfekte balans tussen gerief en bosveld-atmosfeer en bied vyf tente, elk met slaapplek vir twee gaste. Elke tent het ’n grasdak, seildoekvoorkant en ’n unieke en suite-badkamer op ’n privaat houtdek.
Jou verblyf sluit daaglikse, begeleide oggend- en aandwildritte in wat uitstekende geleenthede bied om die Groot 5 saam met ’n kundige velsgids te sien. Kom ontspan in die knus, gemeenskaplike sitkamer of hou die wild by die watergat dop, maar wees ook op die uitkyk vir olifante wat af en toe deur die kamp stap!
***
Waarvoor wag jy? Mpumalanga se beste glanskampplekke roep jou naam, so pak jou tas en maak gereed om behoorlik te ontspan!
Hooffoto: Umkumbe Bush Lodge Luxury Tented Camp
Lees ook:
Wilde wonders: Besoek dié wildreservate en nasionale parke
Mpumalanga: Aktiwiteite vir jou volgende avontuur
Lekker glanskampplekke in Limpopo