Jeuk jou voete om uit die Goudstad se gewoel te ontsnap en werklik te ontspan? Dan is dit tyd om Marlothpark in te vaar. Dit is die perfekte plek om die vars bosveldlug in te asem en jouself in die natuur te verdiep. Hierdie unieke vakansiedorp is ’n wildreservaat waar diere vrylik rondloop en dit is net ’n entjie se ry vanaf die Krugerwildtuin.

Marlothpark bied ook verskeie geriewe soos restaurante en supermarkte, asook ’n waterpark en putt-putt-baan om die jongklomp besig te hou. Ons het sewe ongelooflike verblyfopsies in hierdie skilderagtige dorpie gekies wat ideaal vir jou volgende avontuur is. 

Hierdie pragtige villa is ’n droomwegbreek vir ’n gesin of ’n groep vriende. Dit bied ’n skilderagtige uitsig oor die Krokodilrivier en is net ’n hanetreetjie van die Krugerwildtuin se heining af. Die villa bied slaapplek aan ses volwassenes en twee kinders in drie ruim slaapkamers.

Daar is selfs ’n watergat op die perseel wat ’n verskeidenheid diere lok. Julle kan op die stoep ontspan, lekker braai, in die boma langs die vuurput kuier of lekker in die swembad afkoel terwyl die kinders op die klimraam klouter en in die sandput baljaar. Julle hoef ook nooit oor kragonderbrekings bekommerd te wees nie aangesien hierdie villa sonkrag en ’n rugsteunwaterstelsel het.

Hierdie bekoorlike bosveldvakansiehuis is perfek vir ’n groot groep en bied slaapplek aan agt volwassenes en twee kinders. Die huis het sonkrag en word byna daagliks deur nuuskierige wild besoek.

Die huis beskik oor drie pragtig versierde slaapkamers met en suite-badkamers, plus ’n dubbelslaapbank vir twee kinders in die leefarea. Glasskuifdeure lei na ’n onderdakstoep waar julle lekker kan kuier en ’n vuurtjie kan aansteek, en dit lei weer na ’n boma en ’n swembad. 

Is jy op soek na die perfekte romantiese toevlugsoord? Ontspan onder die sterrehemel by Foxy Crocodile Bush Lodge en Kruger Safari’s. Hiér is twee pragtige selfsorgvillas wat elkeen perfek vir twee gaste is. Dit is die ideale plek vir paartjies om gehaltetyd saam te geniet.

Elke eenheid het ’n koninggrootte-bed, en suite-badkamer, goed toegeruste kombuisie, privaat plonspoel, boma, braai-area en sonkrag.

Maak die meeste van jou bosveld-ervaring by hierdie pragtige boskothuis. Dit bied slaapplek aan ses gaste in twee slaapkamers en op ’n dubbelslaapbank in die leefarea. Die stoep het ’n ingeboude braai, vuurput en ’n plonspoel, maar die eintlike hoogtepunt is die dubbelverdieping-uitkykdek vanwaar jy wild kan dophou en die Krugerwildtuin in die verte kan bewonder.

Julle hoef ook glad nie oor kragonderbrekings bekommerd te wees nie, want hierdie kothuis het sonpanele, ’n omsetter en ’n rugsteunbatterystelsel. Hou ook julle oë vir sebras of koedoes oop wat gereeld hulle dors by die swembad en watergat kom les.

Ervaar die natuur in al haar glorie by Leopard Crest — ’n ruim selfsorghuis met slaapplek vir ses gaste. Die huis is ideaal vir ’n gesin of ’n groep vriende en beskik oor drie slaapkamers waarvan een ’n buitestort het en twee direk na die kuierarea op die stoep lei.

Binne is daar ’n ruim kombuis met ’n aparte opwasarea en ’n sitarea met ’n TV. Buite is daar ’n plonspoel om in af te koel en ’n boma met vuurmaakplek. Julle kan langs die vuur kuier en kyk hoe wild soos sebras, koedoes, nagapies, vlakvarke en kameelperde die huis besoek.

Call of the Fish Eagle is ’n pragtige dubbelverdiepinghuis wat aan die Krugerwildtuin grens en dit bied slaapplek aan agt gaste. Die stylvolle huis het drie ruim en suite-slaapkamers en twee slaapbanke in die boonste leefarea. Die slaapkamers en die onderste leefarea het lugversorging vir warm bosvelddae.

Die kombuis is met ’n wasmasjien en ’n skottelgoedwasser toegerus vir ekstra gerief en daar is ook ’n kroeg met ’n yskas en ’n ysmasjien. Al die slaapkamers en leefareas lei na die groot kuierdek buite waar daar ’n boma met ’n braai-area, vuurput ’n plonspoel is.

Dié bekoorlike huis is slegs 220 m vanaf die Krugerwildtuin se grens en bied slaapplek aan vier volwassenes en twee kinders in twee slaapkamers. Elke slaapkamer het lugversorging en ’n en en suite-badkamer. Die hoofleefarea lei na ’n groot onderdakstoep met ’n vuurput en ’n plonspoel, en dan na ’n tuin.

Die huis is die ideale basis vanwaar julle bedags die Wildtuin kan besoek, maar wild besoek ook gereeld die huis, so hou julle oë vir ondeunde ape en nagapies oop wat graag saans kom gesigwys.

***

So, daar het jy dit – sewe pragtige blyplekke vir jou volgende avontuur buite die stad. Jou bobaas-boswegbreek roep; watter een gaan jy kies?

Hooffoto: Crocodile Ridge Bush Villa

6 van ons gunsteling-glanskampplekke in Mpumalanga

Wilde wonders: Besoek dié wildreservate en nasionale parke

10 Blyplekke naby die Kruger-hekke