Is jy gereed om jou kantoorstoel vir ’n motorsitplek en jou doenlysie vir ’n emmerskoplysie te verruil? Suid-Afrika is die tuiste van beeldskone bestemmings en niks klop die oop langpad met afgedraaide vensters en die reuk van avontuur in die lug nie. Kuslynkurwes, Karoo-stof en berge so majestueus dat hulle jou sal laat stilhou net om te staar.

Of jy nou lus is vir sand tussen jou tone, wildkyk in die bos, of net ’n kans om weer soos ’n kind te vra: “Is ons al daar?”, LekkeSlaap het 10 van die beste roetereise in Suid-Afrika bymekaargemaak – propvol bekoorlike oornagdorpe, bekende bestemmings en ’n paar wenke sodat jy niks misloop nie.

Foto: Misty Mountain Reserve op LekkeSlaap

As daar een roete is wat as Suid-Afrika se gewildste beskou kan word, is dit die Tuinroete. Pragtige strande, digte woude, berge wat jou asem wegslaan en hope avontuur vir diegene wat nie kan stil sit nie. Hierdie beroemde roete strek vanaf Kaapstad tot Gqeberha (Port Elizabeth) en neem jou deur Mosselbaai, George, Wildernis, Knysna, Plettenbergbaai en Tsitsikamma.

Knysna is ’n heerlike plek om oor te slaap en te verken — ’n meer, die ikoniese Knysna-koppe wat oor die see waak en ’n oorvloed oesters. Plettenbergbaai is perfek vir ’n bootrit om dolfyne te sien of om bloot op die goudkleurige strande te lê en die son te geniet. Wildernis hou aktiwiteite soos roei op die Touwrivier of piekniek saam met jou liefie in. Vir die avonturiers is daar die Bloukransbrug se reksprong of ’n veiliger alternatief is om oor die hangbrug in die Tsitsikamma Nasionale Park te stap.

Afstand: ±300 km
Ons stel voor: 3 tot 5 dae
Beste tyd om te besoek: September tot April het sonnige weer, ’n kalmer see en geleenthede om walvisse te sien.

Foto: AfriCamps at Mackers op LekkeSlaap

Die Panoramaroete is soos Suid-Afrika se bioskoop-skerm, want alles hier is dramaties-mooi en groter. Uitsigte, watervalle en natuurskoon wat jou sommer laat wonder hoekom jy ooit só lank gewag het om dié reis aan te pak. Hierdie roete in Mpumalanga neem jou deur Mbombela (Nelspruit), Sabie, Graskop, Ohrigstad en die Blyderivierspoort.

Graskop is ’n wonderlike plek om jou kop neer te lê – dis lekker naby God’s Window en die gewilde Graskop Gorge-hysbak. Sabie is ideaal vir ’n rustige nagrus met watervalle en welige groen woude rondom jou. Moet ook nie die Bourke’s Luck-kolkgate en die Drie Rondawels mis nie en as jy die Krugerwildtuin ook op jou lysie het, is hierdie roete die perfekte voorsmakie.

Afstand: ±160 km
– Ons stel voor: 2 tot 3 dae
– Beste tyd om te besoek: Die droë wintermaande van Mei tot Augustus bring kristalhelder lug en koeler weerstoestande.

Foto: Klein Nektar Wine & Olive Estate op LekkeSlaap

Roete 62 bied ’n rustiger en skilderagtige alternatief vir die N2-snelweg. Hierdie binnelandse roete kronkel deur wynvalleie, ruwe bergpasse en bekoorlike Karoo-dorpies wat vanaf Kaapstad tot Gqeberha (Port Elizabeth) via Worcester, Robertson, Montagu, Barrydale, Ladismith, Oudtshoorn en Uniondale strek.

Hier kan jy diep asemhaal en elke stop geniet: Montagu met sy wynplase en warmwaterbronne, Barrydale waar Diesel & Crème se nostalgiese atmosfeer en melkskommels wag, en Oudtshoorn met sy volstruisplase, die betowerende Kangogrotte en verblyf waar stilte jou enigste buurman is. Langs die pad wag die Robertson-wynvallei, die skilderagtige Tradouwpas en die rustige Karoo-vlaktes.

Afstand: ±850 km
– Ons stel voor: 5 tot 7 dae
– Beste tyd om te besoek: Lente (September tot November) wanneer die wingerd welig is en die Karoo met vetplante wat blom, besaai is.

Foto: Dankbaar op LekkeSlaap

Vir diegene wat van sout in die lug, sand tussen hul tone en ongetemde natuur hou, is die Weskus-roete ’n vereiste. Hierdie roete begin in Kaapstad en neem jou deur Langebaan, Paternoster, Elandsbaai en Lambertsbaai tot in Namakwaland. Die roete is reg deur die jaar gewild, maar tussen Augustus en September word dié wêreld soos ’n lewende skildery deur die bekende Weskus-blomme ingekleur.

Paternoster met sy spierwit huisies en strande is waar jy van al jou bekommernisse kan vergeet. Springbok en Nieuwoudtville is ook goeie oornagopsies as jy die blomme verder noord wil sien. Moet ook nie die Postberg Natuurreservaat, Goegap Natuurreservaat of Namaqua Nasionale Park misloop nie – dís waar die blomme behoorlik hul beste voetjie voorsit.

Afstand: ±400 km
– Ons stel voor: 4 tot 6 dae
– Beste tyd om te besoek: Hierdie roete kry tussen Augustus en September kleur wanneer die veldblomme tydens die veldblomseisoen kopuitsteek.

Foto: Rosetta Fields Country Lodge op LekkeSlaap

Die Midlands Meander is soveel meer as net ’n prentjiemooi roete, dit is ’n plek waar jy van die alledaagse gejaag kan ontsnap. Hier kry jy golwende heuwels, gesellige markies, plaasstalletjies vol stories en lekkernye, en pragtie verblyf waar jy sommer ’n ekstra nag wil bly. Die roete neem jou deur Pietermaritzburg, Howick, Nottingham Road en Mooirivier.

Nottingham Road is die ideale oornagplek en spog met kroeë met karakter en ’n warm, plattelandse atmosfeer. Howick is ’n lekker plek om bene te rek, ’n koppie koffie te kry en by die indrukwekkende waterval van 95 meter hoog ’n draai te maak. Langs die pad wag brouerye, padstalle en ’n afdraai na die Drakensberge se voetslaanroetes met asemrowende uitsigte.

Afstand: ±80 km
– Ons stel voor: 2 tot 3 dae
– Beste tyd om te besoek: Die Midlands Meander is ’n bestemming wat die hele jaar verken kan word, maar tydens lente is dit veral mooi wanneer die heuwels welig en groen word.

Foto: Misty Peaks Cloudlands op LekkeSlaap

As berge jou hart laat sing, is dié roete jou droomwegbreek. Die sirkelroete neem jou deur die Royal Natal Nasionale Park en Champagne-vallei, en verby Cathedralpiek en Giants Castle, met tonele wat jou elke paar minute “wow” laat uiter.

Die roete is perfek vir reisigers wat skilderagtige ritte met stap, perdry of ’n panoramiese uitsig wil kombineer. Die Cathedral Peak Hotel is ideaal vir oornagverblyf, met ’n hemelruim vol sterre en ’n stilte wat jou van tyd sal laat vergeet. Langs die pad is daar antieke rotskuns, forelvisvangplekke en gewilde staproetes soos die Tugela-watervalroete — die tuiste van die wêreld se tweede hoogste waterval.

Afstand: ±49 km
– Ons stel voor: 2 tot 3 dae
– Beste tyd om te besoek: Reg deur die jaar, maar die koeler, droër maande van Mei tot September bied heerlike weerstoestande vir stap.

Foto: Steynskraal Gasteplaas op LekkeSlaap

Dís nou jou kans om stadiger te ry, af te skakel en die manjefieke landksappe om jou in te neem. Hierdie roete kronkel deur Beaufort-Wes, Victoria-Wes, Loxton, Nieu-Bethesda en Graaff-Reinet, met oorgenoeg sterrekyk-geleenthede, geskiedenis en kleindorpie-bekoring. ’n Afdraai na Sutherland is beslis die moeite werd — dis nie verniet een van die beste plekke in die land om sterre te kyk nie. Nieu-Bethesda het ’n boheemse, kreatiewe atmosfeer en spog met die eksentrieke Uilhuis. Graaff-Reinet is die trots van die Karoo en dit is waar die Vallei van Verlatenheid ’n prentjiemooi, panoramiese uitsig wat nes ’n poskaart lyk verseker.

Afstand: ±600 km (afhangende van ompaaie en toegangspunte)
Ons stel voor: 4 tot 6 dae
– Beste tyd om te besoek: Die koeler maande van Maart tot Oktober wanneer die lug op sy helderste vir sterrekyk is.

Foto: Unsplash

Die Wildekus is eie aan sy naam en ’n rowwer, ongerepte pad aan die kus — ideaal vir reisigers wat na ’n bietjie meer avontuur as Jan Alleman soek. Die roete neem jou vanaf Oos-Londen deur Cintsa (Chinsta), Koffiebaai en Port St. Johns, ’n wêreld waar natuur steeds koningkraai. Besoek die ikoniese Hole in the Wall en word deur die ongerepte strande, welige groen heuwels en kulturele Xhosa-dorpies op jou pad betower.

Koffiebaai is ’n gewilde oornagdorp vir branderplankryers en Port St. Johns is perfek vir diegene wat rivierklowe wil verken en vir ’n wyle deel van die plaaslike leefstyl wil word. Kanovaart, voetslaan en ander buitelug-aktiwiteite maak hierdie roete ’n topkeuse vir besoekers wat bereid is om van die algemene roetes af te wyk.

Afstand: ±400 km
– Ons stel voor: 4 tot 6 dae (laat ekstra tyd toe vir stadiger paaie)
– Beste tyd om te besoek: Somer en herfs (November tot April) wanneer die weer warm en die see kalm is, is ideaal.

Foto: Unsplash

Vir ’n roetereis wat ruwe kuslyne, walviskyk en see-uitsigte kombineer, is die roete na die mees suidelike punt van Afrika die een om te kies. Hierdie roete neem jou vanaf Kaapstad na Kaap Agulhas en kronkel deur Hermanus, Gansbaai en Struisbaai. Langs die pad kan jy aftrek om te kyk of daar enige walvisse hul verskyning maak, aktiwiteite soos haaihokduik in Gansbaai aanpak, of sommer net kuslangs wandel in Struisbaai voordat jy uiteindelik Kaap Agulhas en sy befaamde vuurtoring bereik. Dis hiér waar die Indiese en Atlantiese Oseane ontmoet. 

Kies Hermanus as jy wil oornag, veral gedurende die walvisseisoen, maar as jy opsoek is na iets ’n bietjie rustiger is Struisbaai en sy lang, stil strande perfek.

Afstand: ±55 km
– Ons stel voor: 2 tot 3 dae
– Beste tyd om te besoek: Hierdie roete is vanaf Junie tot November gedurende die walvisseisoen baie gewild.

Watter roete en besienswaardighede klink vir jou die lekkerste? Die blommekombers aan die Weskus, die wynkelders op Roete 62, of eerder ’n avontuur-wegbreek aan die wilde Wildekus? Elk van hierdie roetereise bied sy eie kleure en geure en al wat jy moet onthou is jou oornagtas, padkos en kamera, want met hierdie roetes is dit nie net die bestemming wat tel nie, maar elke draai, dorp en “Kyk net daai uitsig!”-oomblik op die pad. 

Hooffoto: The Cowshed op LekkeSlaap


Lees ook:

Beplan jou volgende roetereis

’n Rinkinkkuier op die Tuinroete

Mpumalanga: Aktiwiteite vir jou volgende avontuur